Zola
Gedurende ʼn somber wintersoggend in Johannesburg word kaptein David Majola en adjudant Jason Basson met een van die wreedste moordtonele nóg gekonfronteer: ʼn Jong vrou is wreed gemartel en van ʼn brug afgehang. Majola voel dis net die saak om hom te bewys ná ʼn vroeë bevordering en Basson reken dis sy kans om te wys dat hy eerder die bevordering waardig is. Maar Majola sukkel met dwelmverslawing en skuldgevoelens oor sy ma en suster in Alexandra, en Basson weet nie of hy meer ʼn speurder wil wees nie. Soos die slagoffers opstapel, word Majola se mentor - wat weens mediese redes, onder andere posttraumatiese stresversteuring, afgetree het - by die saak ingetrek.
Hoekom het die moordenaar ʼn nommer op elke slagoffer se rug gekrap? En hoekom word hulle so wreed gemartel en vermoor? Die spanning bereik breekpunt wanneer gerugte die ronde doen dat die moorde binne ʼn rooi monstertaxi plaasvind.
Dis 'n gejaag teen tyd om die moordenaar vas te trek, terwyl Majola en Basson se persoonlike duiwels hul bly teister.