Wiskunde gee my maagpyn - Ouderdomsgroep 6 - 9
Mia haat wiskunde. Sy hou nie van optelsomme nie en sy hou nie van aftreksomme nie. Vermenigvuldigsomme gee haar hoofpyn en sy verstaan nie deelsomme nie.
Haar aaklige wiskunde-onderwyser, meneer Vermaak, sê nie eers 'Môre, klas' soos die ander onderwysers nie. Hy sê net: 'Vandag maak ek MAALVLEIS van die een wie se wiskunde nie gedoen is nie!'
Maar wat meneer Vermaak nie weet nie, is dat Mia besig is om 'n boek oor hipnose te lees... En dat sy selfs onbeskofte wiskunde-onderwysers allerhande toertjies kan laat doen!
Die skrywer Jaco Jacobs woon in Bloemfontein. Meer as 50 kinder- en jeugboeke het reeds uit sy pen verskyn. Hy is elf keer met die ATKV-kinderboektoekenning bekroon.
Verdere toekennings sluit in die Alba Bouwer-prys en die CP Hoogenhout-medalje vir sy bundel rympies Wurms met tamatiesous asook die Elsabe Steenbergprys en die SATI-prys vir sy vertaling van Willemien en die geel kat.
Die Illustreerder Magriet Brink het grootgeword in Stellenbosch waar sy ná skool Grafiese Ontwerp studeer het. Tans woon sy in Londen en werk as 'n vryskut-illustreerder. Kinderboeke wat sy al illustreer het, sluit in Wiskunde gee my maagpyn, Bertie Blikbrein en Suzie se superdoepersjampoe