Soen 'n vreemdeling
Wat as ʼn wildvreemdeling die man van haar drome is?
Gabrielle de Klerk gebruik die Kiss a Stranger-app om die laaste item op haar wenslysie vir haar matriekvakansie in Parys te verwesenlik. Die speletjie het ongeskrewe reëls: geen inligting mag uitgeruil word nie, en geen planne mag gemaak word om mekaar weer te sien nie. Net ʼn soen, en dan moet jy aanbeweeg. Maar kan Gabrielle verby die man van haar drome beweeg wanneer sy hom weer jare later raak loop, en boonop deur sy ouma gevra word om funksies vir hom te reël waar hy die room van die land se beskikbare jong dames kan ontmoet en onder hulle ʼn trouvrou vir hom soek?
Soen ʼn vreemdeling handel oor liefde in die digitale era en die moontlikheid om ware liefde te ontdek, al is dit deur die kuberruimte. Soms ontdek mens ook iemand onder vreemde omstandighede (die heldin word gevra deur die held se ouma om vir hom ʼn trouvrou te soek). Die romanse raak ook aan konsepte soos sosiale vrymoedigheid, depressie ná die verlies van ʼn lewenslange pasmaat en vooropgestelde idees oor rykdom.