Om weer te dans FRENETTE VAN WYK
Zivah werk op Ezra se plaas in Galilea waar sy geurige olies leer meng en parfuum maak. Sy dra swaar aan ’n verlore liefde en is ’n gevangene van ’n donker geheim uit haar verlede, maar hoop dat haar stukkende emosies heel sal word terwyl sy haar passie uitleef. Barabbas met sy charismatiese persoonlikheid, onwrikbare avonturiersgees en vreeslose najaag van sy ideaal om die Jode van Romeinse heerskappy te bevry, vergestalt vir haar die vryheid en geluk waarna sy verlang. Maar sy obsessie om die Jode van Romeinse onderdrukking te bevry dryf hom al dieper die verderf in en verder van Zivah af weg. Ezra ontferm hom al hoe meer oor Zivah, maar sy is vasgevang in haar pyn en hoop vir ’n tweede kans met Barabbas toe Pontius Pilatus hom vrylaat in plaas van die misterieuse Messias-man wie sy ontmoet het ... Maar dit verander steeds nie Barabbas se verterende haat, wraaksug en begeerte om vir sy mense ’n held te wees nie. In ’n wêreld verskeur deur bloedvergieting, verlies en onvervulde hoop soek Zivah en Barabbas elkeen na heling, liefde en ’n tweede kans. Hul paaie kruis telkens in liefde en pyn, maar net God se belofte van herstel – om weer te dans – kan hulle ware vryheid bring. Sal Sy liefde genoeg wees om twee gebroke siele te heel en hul verledes in hoop te omskep?