n Knippie moord Elsa Winckler
Klara Beyers, voormalige joernalis, bestuur deesdae 'n gastehuis en blommeplaas op Somersee naby Hermanus.
Sy is heldersiende en kan onheil in haar nek voel kriewel wanneer dit op haar drempel staan. Soos die oggend toe Dewald Rademeyer sonder 'n bespreking by die gastehuis sy opwagting maak. 'n Dag later daag 'n misterieuse Siamese kat met 'n oënskynlik verskerpte sesde sintuig ook by die gastehuis op en enkele minute later word Dewald se lyk met 'n naaldwerkskêr in sy nek gevind.
Kolonel Mack Biesenbach van Kaapstad en kaptein Schalk Mocke is eerste op die misdaadtoneel waar hulle 'n geskokte Klara met bloed op haar hande kry. Schalk is simpatiek, maar Mack, met wie Klara se pad al voorheen gekruis het, glo nie haar weergawe nie.
Om haar onskuld te bewys, begin Klara self na leidrade soek. En dít dryf Biesenbach nog verder teen die mure uit.
'n Knippie moord is humoristies, propvol kinkels, kleurryke karakters en 'n kat genaamd Judi Dench. En natuurlik ook 'n tikkie romanse!