Heks Dibi Breytenbach
“Ek lag vir die ydelheid van my gesprek met my spieëlbeeld. En vir 'n vlugtige moment, vir die heel eerste keer, sien ek dit ook: Die heks, die verleidster. Sy kyk na my terug, tuit haar lippe skalks voor sy agter die konformiteit van my onmerkwaardige voorkoms verdwyn.”
Die verteller in Heks vind haar toevlug in sprokies en mitiese verhale. Terwyl die wêreld die ontstellende beelde van die oorlog in Oekraïne op TV-skerms gadeslaan, verdiep sy haar in die ryke mitologie van dié land en die stories van die vreeslose hekse van Lisa Gora. Haar eie lewe is alles behalwe 'n sprokiesverhaal, want dit voel asof haar man haar voortdurend afkraak en haar loopbaan as vryskut- korporatiewe skrywer net nie wil vlot nie.
Maar daar sluimer wel 'n innerlike krag in haar - 'n krag wat tot uiting kom wanneer sy met M gesels - die man met wie sy al 'n paar jaar lank 'n affair van die hart en verstand het, wat dalk tot iets meer kan lei. M sê sy toor met hom.
Sy beroep haar op haar nuwe innerlike krag wanneer sy van ongerymdhede bewus word by die kosmetiekmaatskappy vir wie sy bemarkingskopie moet skryf. Sy is keelvol daarvoor dat vroue alewig aan die kortste ent trek. Die maatskappy moet tot verantwoording geroep word. Soos 'n godin of 'n heks uit die mitologie is dit tyd dat sy beheer van haar eie verhaal neem.
In Heks word mites en sprokies vervleg met die realisme van 'n vrou se strewe na selfverwesenliking. Dibi Breytenbach slaan 'n nuwe koers in met dié jongste roman wat haar skryfwerk na nuwe hoogtes voer.