Hekelwoorde van my Hart

Hekelwoorde van my Hart

R 265

Tania het sowat 2 jaar gelede 'n Facebook-blad, Hekelwoorde van my Hart, begin. Hier het sy haar skrywes en gedigte begin deel. Die dapper en eerlike manier waarop sy woorde en gevoelens neergepen het, het groot aanklank gevind en die volgelinge van die blad het stadig maar seker tot in die duisende groei. Daarmee saam het vele versoeke gekom dat Tania haar woordkuns in boekvorm moes bekendstel.

Sy vertel hoe sy haar manuskrip aan 'n groot, gevestigde uitgewershuis voorgelê het vir oorweging, maar afgekeur is op grond daarvan dat hulle “nie met sekerheid kon sê dat die bundel 'n sukses sal wees nie.” Lesers verslind egter die bundel weens die eerlike en opregte manier waarop sy met haar eie tekortkominge omgaan, hoe raak sy emosies oor alledaagse probleme en situasies verwoord, en veral oor die deurdagte manier waarop die mees persoonlike gedagtewêreld van elke mens pynlik akkuraat en reguit deur haar omskryf word. 
Tania sê die mees konsekwente terugvoer wat sy van lesers ontvang, is dat sy dit regkry om emosies te verwoord wat hulle self nog altyd gevoel het, maar nog nooit woorde voor kon vind nie.

Die bundel bestaan uit kort skryfstukke, sowel as gedigte. Glendine Chrisholm, bekende skilder van De Rust in die Wes Kaap, het die illustrasies gedoen - en die eindproduk is 'n perfekte sinergie tussen siel en woord, wat moeiteloos en sonder enige voorspelbaarheid hulself, elkeen op sy eie tyd, deur die loop van die bundel openbaar.

“Dit was 'n absolute spanpoging,” sê Tania “en tydens die reis van die bundel het daar wonderlike mense oor my pad gekom wat elkeen 'n
waardevolle inset gehad het om te lewer om die bundel 'n pragtige en hoë gehalte produk te maak. Ek is baie trots op die boek - dit lees lekker, maar dit vat en voel ook lekker. Mens is lus om dit in jou hande vas te hou, en ure se tyd daarmee te spandeer.”

Om die groot besluit te neem om hierdie bundel uit te gee was nie maklik vir Tania nie - maar vandag is sy baie dankbaar vir wat sy uit die proses geleer het. Soos sy tereg noem, dit neem 'n dapper mens wat bereid is om self die tyd, koste en risiko aan te gaan om iets te doen waarin hulle met hulle hele hart glo.
Op die ou end is dit die publiek wat hul hart moet wys om die waarde van 'n stuk skryfwerk te bepaal, en dit is in hierdie waardering en terugvoer van lesers waarin die meeste bevrediging van die proses vir die skrywer lê.

Share on

Customer reviews

No reviews yet.
Click here to contact us on WhatsApp