Elsa Winckler eerste keur
Van altyd af
Cilla is ’n hoërskoolonderwyseres op die Overbergse dorp Caledon. Haar groot liefde is diere – perde in die besonder – en sy kan van kleins af met hulle kommunikeer.
Toe Reynecke Retief se hings probleme gee, vra sy plaasbestuurder haar om te help uitvind wat die perd pla, maar dis gou vir haar duidelik dat Reynecke haar nie vertrou nie. Trouens, hy beskuldig haar daarvan dat sy sy perd wil toor, en haar intuïtiewe benadering staan hom geensins aan nie. Maar sy diepblou oë en swart krulhare is vir haar vreeslik bekend. Het sy hom nie al iewers ontmoet nie?
Langbeen Cilla krap terselfdertyd al Reynecke se vooropgestelde idees oor verhoudings en die lewe om. Daar is soveel hartseer in sy verlede . . . sal hy ooit teenoor homself kan erken dat Cilla van altyd af vir hom bedoel is?
Te eenders, te anders
Aileen het lank oorsee rondgerits, maar nou is sy terug op Stellenbosch en sy weet wat sy wil hê: haar eie pâtisserie. Sy’t reeds die perfekte perseel gevind, maar die eienaar van die gebou is absoluut, heeltemal onmoontlik! Allen is alles wat Aileen verfoei: eiewys, humeurig, vinnig om kwaad te word – ’n rooikop, nes sy self, maar sowaar, sý ken darem maniere! Wanneer sy saam met ’n vriendin ’n lesing oor persoonlikheidstipes bywoon, weet sy dit seker: Sy en Allen sal nooit om dieselfde vuur kan sit nie.
En tog . . . Sy’s al baie gesoen, onder meer deur ’n Fransman, en niemand se soene is naastenby so opwindend soos wanneer Allen selfs net naby haar kom nie . . .
Tydlose liefde
Kalinda het Suid-Afrika en haar eksman agtergelaat vir ’n nuwe lewe in Kanada, maar noudat sy terug is om navorsing te doen oor Kanadese soldate in die Anglo-Boereoorlog, onthou sy Neil se dreigende laaste woorde aan haar. Maar eers het sy ander probleme. Soos die spook wat in haar kar geklim het op pad na Paardeberg – én haar kantsakdoekie agtergelaat het.
Op die plaas aangekom, het Kalinda te kampe met die wildewragtag van ’n Zach met sy onredelike drang na ekstreme sport – én met die onverklaarbare drif wat dadelik tussen hulle posvat.
Terwyl Kalinda die geskiedenis en haar spook se spore volg, kies sake tussen haar en Zach alte vinnig koers – maar daar’s sy arrogante drie-date-reël, en boonop is Neil tóg nie iets van die verlede nie . . .